Kalahari Vasbyt

KALAHARI VASBYT 2025

Slegs vir manne wat in 2025 in Gr 11 is of wat in 2025 17 word.

Kalahari-Vasbyt vir seuns is vol bespreek. Vir Meisies Vasbyt klik op die skakel.

BESPREEK NOU>> VIR MEISIES


“Alhoewel die Kalahari Vasbyt Educational Organisation na die bes moontlike verhouding met al ons skole streef, is geen skool betrokke by die aanbieding van die kursus nie en neem geen skool verantwoordelikheid vir enige iets wat op die Vasbyt mag gebeur nie”

Tel: +27 (0) 21 855 0395

ALGEMEEN

Deur vir hierdie avontuur in te skryf verbind jy jouself daartoe om hard te werk en ʼn groot sukses daarvan te maak. As jy nie belangstel nie, is jy welkom om by die huis te bly. As jy saamkom sal jy ook moet saamwerk. Niks is meer irreterend as mense wat op die Vasbyt kom en dan hulle en ons tyd mors deur pal op selfone te wees nie.

KURSUSBYDRAES

Alhoewel die Vasbyt ook afhanklik is van bydraes verwag ons dat jy R24 000 plus VSA $ 350 tot die kursus sal bydrae. Dit behoort jou koste te dek. As jy dit nie kan doen nie is jy welkom ons ons te kontak. Dit behoort al ons kostes te dek soos vliegtuigkaartjies, brandstof en direkte onderhoud aan voertuie. Dan kan ons donateurs se geld gebruik vir ons voedings projek ens.

*Die USA $350 word vermenigvuldig met die aankoop prys van die dollar soos op 15 Oktober 2024 om 12h00.

Ons wil nou slegs n R2 000 deposito van jou hê Dit sal ons administrasie dek.

MEES ALGEMENE VRAE

WAT IS DIE REGTE OUDERDOM OM OP DIE VASBYT TE GAAN?Vir die 2025 Vasbyt moet jy in gr. 11 of 17 wees in 2025.

IS DIT 'N OORLEWINGSKAMP? Beslis nie. Jy sal altyd genoeg kos en water kry. Kos is meestal uitstekend. Die seuns word geleer om kos te maak en, omdat daar sulke hoë eise aan die kandidate gestel word, is die kos feitlik altyd puik en meer as genoeg. Indien jy honger is op die Kalahari Vasbyt, gaan koop jy nie jou eie kos nie; jy vra en ons sorg dat jy genoeg eet.

IS DIE VOERTUIE VEILIG? Ons gebruik orals padwaardige voertuie en groot sorg word aan die dag gelê om ongelukke te voorkom. Ons gebruik Toyota Landcruisers. Die ryery is nietemin 'n baie gevaarlike deel van die kursus. Veral ook omdat die seuns soms agterop die bakkie sit, maar alles moontlik en menslik word gedoen om hul veiligheid ter alle tye te verseker.

So, byvoorbeeld, hou busse en die veldvoertuie groot gevaar vir insittendes in indien die voertuig sou rol. Suid-Afrikaanse bus- en motorongelukke is dikwels noodlottig. Veldvoertuie, busse en dubbel kajuit-bakkies, bied weinig beskerming in die geval van ongelukke. Die baie sterk rolstawe van die veldvoertuie help slegs indien jy nie onder een beland nie. Ongelukke moet derhalwe vermy word deur die spoed aan te pas en so waaksaam moontlik te wees. Ouers en leerders sal benewins die inskrywingsvorm ook gevra word om ‘ʼn dokument oor vervoer te onderteken.

REKSPRONGE? Daar het al persone seergekry by laer spronge. Die brug by Victoria Falls is egter hoog. Derhalwe het geen persoon nog ʼn ernstige besering opgedoen in die nagenoeg 20 jaar wat daar elke dag minstens 70 spronge gedoen word nie. Om seer te kry in die bad is meer as 100 keer meer waarskynlik. Extreme Adventures bied hierdie avontuur aan. Hulle is uitstekend toegerus en bied ook die spronge in Suid-Afrika en Nieu-Seeland aan.

“WHITE WATER RAFTING”? Daar is reeds sewe persone dood sedert die sport in die tagtigerjare begin is. Vyf van hulle was gidse wat hul lewens opgeoffer het om kliënte te red wat nie instruksies gevolg het nie. Die Zambezi is ʼn groot rivier en die veiligheidsmaatreëls en instruksies van jou gids moet nougeset nagekom word. Die gidse is almal besonder vriendelik, fiks en onverskrokke. As jy hul instruksies ignoreer kan jy egter uiterste streng optrede en selfs ligte toepaslike geweld verwag.

Statisties is die persentasie ongelukke onbeduidend. Geen koste word nietemin ontsien om die gevolge van ongelukke so klein as moontlik te hou nie. ʼn Hele span reddings personeel sal die Vasbyters vergesel. Die veiligheidplan en -voorbereiding sluit, onder andere, die teenwoordigheid van reddings kajakke en ʼn helikopter, met duikers, in.

WILDE DIERE? Moenie illusies hê nie. Wilde diere kan gevaarlik wees. Die veiligheidsmaatreëls wat ons tref is al deur leeus en olifante getoets. Gelukkig het dit nog altyd gewerk. Seuns word sterk aangeraai om toe skoene in die veld te dra. Dit bied beskerming teen skerpioene en spinnekoppe. Slange mag ʼn gevaar inhou en so ook weerlig. Seuns sal ons veiligheidsmaatreëls moet gehoorsaam.

ROETEMARS? Die roetemars is lank en moeilik. Voorsorg word getref teen wilde diere. Niemand loop ooit in die nag nie en ek is voortdurend in kontak met die groep. Veral slange hou ʼn gevaar in. Die beste moontlike noodhulp sal altyd beskikbaar wees. ʼn Slangbyt kan noodlottig wees. Skerpioensteke en spinnekopbyt is veel meer algemeen, maar gelukkig minder gevaarlik. Ek het in die verlede hierdie soort van ongelukke suksesvol behandel en het min twyfel dat ek dit ewe suksesvol in die toekoms sal kan doen.

WIE IS DIE KURSUSLEIER? Andries Erwee (1958-model) en pa van twee dogters. Ek glo dat ek my roeping uitleef ten opsigte van die jeug. Ek het al Die Burger se jeug toere (42 Jip-toere in totaal) gelei.

As veld- of natuur gids het ek werklik baie ervaring en is as sulks geregistreer by die Suid-Afrikaanse departement van omgewingsake en toerisme (WC 2853). Ek is ʼn gerespekteerde lid van die Federasie van Suider-Afrikaanse Veldgids (nr. 7486) en beskik oor ses nasionale veldgids kwalifikasies. (TG01/TG08/TG11/TG12/TG14/TG18) en as kultuur gids oor die hoogste nasionale gradering. Ek beskik oor 'n nagraadse onderwysdiploma en het 'n meestersgraad in leierskapsontwikkeling. Verskeie tydskrifte en nuusblaaie het al positiewe artikels geplaas oor my opvoedkundige metodes. Ek sal bygestaan word deur minstens twee jonger volwassenes.

WAT WIL JULLE BEREIK? Die Kalahari Vasbyt-beweging glo baie sterk daaraan om jong manne te bemagtig en nie geskenke uit te deel nie. Op hierdie kursus sal u seun geleer word om nie te wag op “iemand” nie, maar om ʼn weg te vind om homself te help. Vasbyters sorg egter ook vir mekaar en sodanige kultuur word tydens die kursus tuis gebring met die doel dat Vasbyters mekaar ook gedurende die jare wat volg instinktief sal bystaan en help wanneer nodig. Boonop word ons geleer om waardige en waardevolle bydraes in die gemeenskap te lewer.

IS DIT FISIES UITPUTTEND? Jy gaan beslis grense oorsteek op die Vasbyt. Daardie grense is fisies. Jy kan veel meer fisies doen as waaraan jy nou dink en ons gaan daardie grense oorsteek. Jy gebruik waarskynlik net ʼn baie klein deel van jou brein en ons gaan ook daardie grens oorsteek. Jy gebruik die mense rondom jou waarskynlik baie minder as wat hulle bereid is om te doen. Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Jy is waarskynlik in staat om jou vriende en ouers baie meer by te staan en om baie meer in die gemeenskap te doen as wat jy tans doen.

Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Die Kalahari Vasbyt is vir jong manne wat moeg is vir die vervelige lewe van gewone deursnee mense en iets spesiaal wil doen. Vir ouens wat wil uitstyg. Uitstyg is moontlik en lekker, maar altyd moeilik en uitputtend. Hierdie kursus leer jou om jou drome n werklikheid te maak en nòg drome te droom wat jy nooit oor sou dink nie.

IS DIT NIE BUITENGEWOON WARM IN JANUARIE NIE? Botswana en Victoria Falls is heel gemaklik. Ek het egter al uiters warm weer in die Sentraal-Kalahari beleef tydens Januarie. Vanweë die bewolktheid in Januarie, is die gemiddelde temperatuur 4,3 grade koeler as in November en 2,8 grade koeler as Oktober. Berei jou nietemin voor op warm weer.

WAT GEBEUR AS EK OM EEN OF ANDER REDE UITVAL? Solank as wat jy aktief deelneem aan die kursus en die doelwitte onderskryf, bly jy deel van die kursus.

IS DIT MOEILIK OM DIE KURSUS TE SLAAG? Baie moeilik. Dit stel hoë fisiese en geestelike eise. Geen akademiese toets word afgeneem nie. Almal met die regte motivering kan die kursus slaag. Jy sal byvoorbeeld die 3 000m in onder 16 minute moet voltooi en die groep 'n gemiddelde tyd van 14 minute moet kan doen. Dit is waarskynlik die maklikste hekkie om oor te kom.

WAAROM NIE MEISIES NIE? Ons doen 'n soortgelyke kursus vir meisies gedurende Desember. Kyk gerus na die Meisie-Avontuur op ons webbladsy. Ons wil nie die seuns en meisies op een kursus neem nie. Daar is dinge wat fisies onmoontlik vir meisies is om te doen en daar is ander dinge wat ouens nie kan doen nie. Boonop verloor ouens hul fokus as meisies saam is, soos wat 'n reunhond sy fokus verloor as daar 'n teef, wat op hitte is, naby is.

HOE WORD DIE OUENS GEKEUR? Daar vind geen keuring plaas nie, maar dit is belangrik om te weet dat jy aan sekere fisiese vereistes moet voldoen om die kursus te slaag. As jy meer as 15% oorgewig is of 'n fisiese gestremdheid het, gaan jy waarskynlik nie die kursus slaag nie. As jy hieroor twyfel moet jy gerus jou apteker of dokter se raad vra. Jy moet ook 3 000m in minder as 16 minute kan kafdraf as jy die kursus wil voltooi. Selfoon verslawing gaan ook ʼn groot hindernis wees.

TEN SLOTTE: Julle gaan die Vasbyt-lied leer en nooit vergeet nie, maar die volgende vers sal altyd tot hierdie avontuur soos geen ander resoneer:

"Terwyl softies by die see lê

en rondlê in die klubs,

word hier vriendskap en karakter

deur sweet en bloed gebou”

Ons wag opgewonde om jou aansoek te ontvang en jou te verwelkom by die Vasbyt-familie!