(Media 24, Die Burger, Beeld of Volksblad is nie betrokke by die toer nie) | Navrae
Temba Travel

KALAHARI VASBYT MEISIES ALGEMENE INLIGTING 2025

Beplanning vir Kalahari Vasbyt Meisies 2026 is aan die gang en sal binnekort beskikbaar wees vir navrae.

BOOK NOW >> VIR MANNE


Tel: +27 (0) 21 855 0395

WAT IS DIE MEISIE VASBYT?

Dit is ’n leierskap kursus, vir meisies, waar ons deur natuurkennis, algemene kennis en fisiese aktiwiteite gebruik om werklike leierskap te ontwikkel. Die visie, missie en die beginsels staan sentraal in die hele Vasbyt.

VISIE

Ons is meisies soos geen ander.

Vasbyt missie.

Ons raak meisies en vroue soos geen ander, deur fisiese, geestelike, emosionele en kulturele grense te verskuif, deur ons lewens op Christelike beginsels te skoei en leierskap na te streef en te ontwikkel deur te leer en te dien.

Die Vasbyt beginsels

  • Vasbyters is dienende lede van hulle gemeenskap.
  • Vasbyters tree hoflik op teenoor vriende, ouers, landgenote en teenstanders. Hulle is trots op hul goeie maniere, en streef dit ten alle tye na.
  • Vasbyters vloek nie. Ons is trots op ons taalgebruik.
  • Vasbyters is altyd sober.
  • Vasbyters respekteer ander se opinies, geslag, seksuele orienteering, godsdiens en ras as gelyke.
  • Vasbyters is nooit tevrede met gemiddelde prestasies nie. Vasbyters is positiewe denkers en wenners.
  • Vasbyters dink en praat nie net nie, maar word geken aan hulle aksies.
  • Vasbyters aanvaar dat hulle terugslae gaan kry. Terugslae is net geleenthede om met meer toewyding en vasberadenheid voor te begin of aan te gaan.
  • Vasbyters is voorbereid om in ʼn groep saam te werk terwyl hulle nooit hul individualiteit prysgee nie.
  • Vasbyters is fisies, geestelik en emosioneel sterk en fiks.
  • Vasbyter weet dat kennis belangrik is en werk aktief om soveel as moontlik te weet oor alles moontlik.

KURSUSBYDRAES

Ons gaan jou vra om R32 000 by te dra tot die koste van die kursus. As jy dit nie kan bydra nie moet jy ons betyds kontak. Trouens wanneer jy inskryf

Kostes van die nasionale parke, brandstof en vliegtuigkaartjies is enorm.

Dit is ʼn uitdruklike voorwaarde vir deelname aan die toer dat jy nie meer as R900-00 sakgeld mag saamneem nie.

WANNEER BETAAL EK?:

Die eerste deposito van R4000-00 is betaalbaar met bespreking. Die balans is betaalbaar voor of op 15 Oktober 2025.

WAT IS INGESLUIT BY DIE BYDRAE:

  • Park fooie, White Water Rafting, Bungee en alles soos in die program genoem.
  • Een reissak.
  • Alle etes vanaf die aandete op 28 November tot ontbyt op 11 Desember 2025.

WAT IS UITGESLUIT?

  • Daar is niks waarvoor jy sakgeld nodig het nie. Ons het egter nie omvattende of mediese versekering nie. Dit mag dalk raadsaam wees om versekering te kry.
  • Jy moet ʼn paspoort en unabridged geboorte sertifikaat kry. Jou ouers se name moet op jou geboortesertifikaat wees.
  • Malaria voorkoming is nie ingesluit nie.

WAT IS DIE REGTE OUDERDOM OM OP DIE VASBYT TE GAAN?

Gr. 10 en 11 meisies is welkom.

IS DIT 'N OORLEWINGSKAMP?

Beslis nie. Jy sal altyd genoeg kos en water kry. Kos is meestal uitstekend. Die meisies word geleer om kos te maak en, omdat daar sulke hoë eise aan die kandidate (meisies) gestel word, is die kos feitlik altyd puik en meer as genoeg. Indien jy honger is op die Caprivi-Vasbyt gaan koop jy nie jou eie kos nie. Jy vra en ons sorg dat jy genoeg eet.

IS DIE VOERTUIE VEILIG?

Ons gebruik orals padwaardige voertuie en groot sorg word aan die dag gelê om ongelukke te voorkom. Busse en die veldvoertuie hou groot gevaar vir insittendes in indien die voertuig sou rol. Suid-Afrikaanse bus en motorongelukke is dikwels noodlottig. Veldvoertuie, busse en dubbel kajuit bakkies, bied weinig beskerming ingeval van ongelukke. Die baie sterk rolstawe van die veldvoertuie help slegs indien jy nie onder een beland nie. Ongelukke moet derhalwe vermy word deur die spoed aan te pas en so waaksaam moontlik te wees. Ons gaan vreeslik streng moet wees met die dra van sitplekgordels.

BUNGI JUMPING

ʼn Enkele meisie is al lig beseer tydens Bungee by Victoria Falls in die 16 jaar wat dit aangebied word. Naas slaap is dit seker die veiligste aktiwiteit wat ons gaan doen.

WHITE WATER RAFTING:

Daar is reeds sewe persone dood sedert die sport in die tagtigerjare begin is. Vyf van hulle was gidse wat hul lewens opgeoffer het om kliënte te red wat nie instruksies gevolg het nie. Die Zambezi is ʼn groot rivier en die veiligheidsmaatreëls en instruksies van jou gids moet nougeset nagekom word. Die gidse is almal uitstaande vriendelik, fiks en onverskrokke. As jy hul instruksies ignoreer kan jy egter uiterste streng optrede en selfs ligte toepaslike geweld verwag. Statisties is die persentasie ongelukke onbeduidend. Geen koste word nietemin ontsien om die gevolge van ongelukke so klein as moontlik te hou nie. ʼn Hele span reddings personeel sal die Vasbyters vergesel. Veiligheidstoerusting sluit onder andere reddings kajakke en ʼn helikopter met duikers in.

WILDEDIERE:

Moenie illusies hê nie. Wildediere kan gevaarlik wees. Ek persoonlik aanvaar verantwoordelikheid hiervoor. Ek is dankbaar dat ek nog geen ongeluk beleef het nie. Die veiligheidsmaatreëls wat ek tref is al deur leeus en olifante getoets. Gelukkig het dit nog altyd gewerk. Meisies word sterk aangeraai om toe skoene in die veld te dra. Dit bied beskerming teen skerpioene en spinnekoppe.

 

ROETEMARS:

Die roetemars is lank en moeilik. Voorsorg word getref teen wildediere. Niemand loop ooit in die nag nie en ek is voortdurend in kontak met die groep. Veral slange hou ʼn gevaar in. Die beste moontlike noodhulp sal altyd beskikbaar wees. ʼn Slangbyt kan noodlottig wees. Skerpioen steke en spinnekop byte is veel meer algemeen, maar gelukkig minder gevaarlik. Ek het in die verlede hierdie soort van ongelukke suksesvol behandel en het min twyfel dat ek dit ewe suksesvol in die toekoms sal kan doen.

 

WIE IS DIE TOERLEIER?

Andries Erwee (1958-model) Sewe-en-Sestig pa van twee dogters en oupa van 7. Ek glo dat ek my roeping uitleef ten opsigte van die jeug. As veldgids of natuur gids het ek werklik baie ervaring en is as sulks geregistreer by die S.A. Departement van Omgewingsake en Toerisme (WC 2853). Ek is ʼn gerespekteerde lid van die Federasie van Suider-Afrikaanse Veld gidse (nr. 7486) en beskik oor ses nasionale veldgids kwalifikasies. (TG01,TG08/TG11/TG12/TG14/TG18) en as kultuur gids oor die hoogste nasionale gradering. Ek beskik oor 'n nagraadse onderwysdiploma en het 'n meestersgraad in leierskapsontwikkeling. Verskeie tydskrifte en nuusblaaie het al positiewe artikels geplaas oor my opvoedkundige metodes. Ek sal bygestaan word deur minstens twee jonger volwassenes.

 

WAT WIL JULLE BEREIK?

Die Vasbyt beweging glo baie sterk daaraan om jongmense te bemagtig en nie geskenke uit te deel nie. Op hierdie toer sal u dogter geleer word om nie te “demand” nie, maar om ʼn weg te vind om haarself te help. Vasbyters sorg egter ook vir mekaar en die idee is dat ons later toenemend meer beurse beskikbaar sal stel vir oud Vasbyters.

IS DIT FISIES UITPUTTEND?

Jy gaan beslis grense oorsteek op die Vasbyt. Daardie grense is fisies. Jy kan veel meer fisies doen as waaraan jy nou dink en ons gaan daardie grense oorsteek. Jy gebruik waarskynlik net ʼn baie klein deel van jou brein en ons gaan ook daardie grens oorsteek. Jy gebruik die mense rondom jou waarskynlik baie minder as wat hulle bereid is om te doen. Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Jy is waarskynlik in staat om jou vriende en ouers baie meer by te staan en om baie meer in die gemeenskap te doen as wat jy tans doen. Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Die Caprivi-Vasbyt is vir jongmeisies wat moeg is vir die boring lewe van gemiddelde mense en iets spesiaal wil doen. Vir meisies wat wil uitstyg. Uitstyg is moontlik en lekker, maar altyd moeilik en uitputtend. Hierdie kursus leer jou om jou drome werklikheid te maak en drome te droom wat jy nooit oor sou dink nie.

IS DIT NIE BUITENGEWOON WARM IN DESEMBER NIE?

Net 'n dwaas sal dit ontken. November is die warmste maand gevolg deur Oktober, Desember IS darem gemiddeld meer draaglik a.g.v. die eerste Somerreën.

WAT GEBEUR AS EK OM EEN OF ANDER REDE UITVAL?

Solank as wat jy aktief deelneem aan die kursus en die doelwitte onderskryf, bly jy deel van die toer. Ten einde die kursus te slaag sal jy sekere fisiese en ander mikpunte moet behaal.

IS DIT MOEILIK OM DIE KURSUS TE SLAAG?

Baie moeilik. Dit stel hoë fisiese en geestelike eise. Almal met die regte motivering kan die kursus slaag. Jy sal bv. die 2600 m in onder 16 minute moet voltooi en die groep 'n gemiddelde tyd van 14 minute moet kan doen. Dit is waarskynlik die maklikste hekkie om oor te kom.

HOE WORD DIE MEISIES GEKEUR?

Daar vind geen keuring plaas nie, maar dit is belangrik om te weet dat jy aan sekere fisiese vereistes moet voldoen om die kursus te slaag? As jy meer as 15% oorgewig is of 'n fisiese gestremdheid het, gaan jy waarskynlik nie die kursus maak nie. As jy hieroor twyfel moet jy gerus jou apteker of dokter se raad vra. Jy moet ook 2600 m in minder as 16 minute moet kan afdraf as jy die kursus wil voltooi.